loading

Yonkers

blog

Het jy ’n dinkvennoot? Het jy een nodig?

Ons kom almal in situasies waar te veel kleinighede ons so oorweldig dat ons die geheel miskyk. Ons kry nie ’n duidelike perspektief oor ’n taai kwessie nie, of miskien herken ons ’n herhalende patroon, maar kry dit om die dood nie verander nie. Ons is eenvoudig te betrokke en versonke in ons situasie om onsself sonder hulp daaruit los te wikkel.

Die spreekwoordelike bome wat veroorsaak dat ons die bos nie kan sien nie is ’n teken van ons onvermoë om vorentoe te beweeg en dinge te verander, of dit nou in ’n sakekonteks is of in ons persoonlike lewens.

Wat gemaak wanneer ons ons slag verloor? Soms bel ons iemand en vra hulp om perspektief terug te kry. Soms praat ons met ons wederhelf of lewensmaat oor ’n probleem by die werk. Soms soek ons die antwoord op die internet.

Maar soms is dit nie genoeg nie en moet ons ekstra hulp inroep – ’n metaforiese boswerker om onnodige bome te help afkap sodat ons weer kan asemhaal.

Ons is as mense van nature dikwels wantrouig teenoor buitestanders. En ’n fokus op bome in plaas van die groot prentjie kan ook vir ons ’n gemaksone wees. Ons vra onsself: “Wie dink hulle – die sielkundige, digitale analis, korporatiewe konsultant of lewensafrigter – is hulle nou eintlik?”

’n Buitestander is dikwels die sleutel tot sukses of ’n oplossing, of dit vir ’n kommunikasiestrategie, ’n bemarkingsdilemma, ’n menslikehulpbronkwessie of iets anders op ’n eindelose lys uitdagings is.

’n Objektiewe en professionele spesialis met die nodige vaardighede en kundigheid kan jou help perspektief terugkry, volgende stappe prioritiseer, jou inspireer en jou onderneming nuwe lewe gee.

Net soos nuwe aanstellings in ’n maatskappy (met vars perspektief en menings) kan buitekontrakteurs ook waarde toevoeg tot jou onderneming. Want, buiten die genot wat ’n mens kan put uit tuinmaak, kos dit jou waarskynlik ’n goeie paar ure aan sweet om jou tuin mooi te laat lyk, terwyl tuindienste dit dalk vinniger kan doen (en jy intussen die tyd produktief en winsgewend kan aanwend).

Wat is die voordele daarvan om konsultante of kontrakteurs te gebruik?

  • Hulle is objektief oor jou onderneming.
  • Hulle wil hulself aan jou bewys en is dus gemotiveerd om ’n oplossing te vind.
  • Hulle is kundig op hul spesifieke gebiede – spesialiste in hul bedryf.
  • Hulle kan jou tyd, moeite en geld bespaar, want hulle het reeds die vaardighede en ervaring in hul veld.
  • Hulle verfris dinge en laat jou dink.
  • Hulle let goed op wat jy nie raaksien nie – positiewe en problematiese aspekte van jou sakekultuur.
  • Hulle kry dalk werknemers of medewerkers om iets te sê wat hulle te bang of geïntimideerd voel om vir jou te sê.
  • Hulle wil hê jy moet suksesvol wees.
  • Húlle wil suksesvol wees.
  • Hulle wil goeie werk vir jou lewer, want die kans is daar dat jy hulle sal verwys vir ander projekte – jy help hulle om hul reputasie te bou.

Ja, daar is kansvatters – mense met gladde tonge wat die maan en die sterre belowe en dit dan nie kan lewer nie. Maar in die kennisera waarin ons leef, word dit al hoe moeiliker om met slenterstreke weg te kom.

Die regte buitestander om die spreekwoordelike bome te snoei, kunsmis te gooi en selfs balke daarvan te saag is ’n telefoonoproep of ’n muisklik ver. Waarom kyk jy nie wat jou opsies is nie? Dit is tyd vir ’n lugaansig van daai aangeplante bosse.

besonderhede

skrywer

Lemonade Hub

SOSIALE MEDIA
Deel hierdie artikel